Print Page | Close Window

Fleck in war oor klimtol-vertonings

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7782
Printed Date: 26-Jun-2024 at 6:03am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Fleck in war oor klimtol-vertonings
Posted By: Transvaal
Subject: Fleck in war oor klimtol-vertonings
Date Posted: 21-Apr-2019 at 7:28am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/fleck-in-war-oor-klimtol-vertonings-20190420" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/fleck-in-war-oor-klimtol-vertonings-20190420

Een tree vorentoe en twee treë terug.

Dít was Saterdagaand die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, se refrein nadat sy span hul Superrugby-wedstryd teen die Brumbies op Nuweland met 17-19 verloor het.

Die Stormers het verlede naweek met die Rebels in Melbourne afgereken om hulself in ’n sterk posisie in die Suid-Afrikaanse groep te kry, maar ná die onverwagse nederlaag is hulle opnuut teen die toue. Dat die Stormers verloor het, was te danke aan hul totale onkunde op die aanval. Hulle het veldgebied oorheers en balbesit omtrent gekaap, maar kon min uitrig.

“Ons het in die eerste tien minute 12 sagte punte afgestaan, maar die res van die wedstryd oorheers. Die Brumbies het die wedstryd stadig gemaak en die skeidsregter het hulle toegelaat om dit te doen. Alle eer egter aan die Brumbies vir hul verdediging. Ons het baie geleenthede geskep, maar die bal te dikwels verloor,” sê Fleck.

Terwyl hy glo die Brumbies moes ’n geelkaart gekry het vir al hul onwettige spel wanneer die Stormers op die voorvoet was, aanvaar Fleck dat sy span selfondersoek moet doen.

“Ons skram nie weg van die feit dat ons uitvoering beter moet gewees het nie. Ons moes meer van ons geleenthede in hul kwartgebied in punte omskep het. Ons het die bal te dikwels verloor,” het hy gesê.

Terwyl dit ’n yslike terugslag vir die Stormers was, skep Fleck moed uit hoe naby die spanne aan mekaar is in terme van ligapunte in die Suid-Afrikaanse groep.

“Daar was al baie verrassende uitslae. Ons het dit nou moeilik vir onsself gemaak en is met die rug teen die muur. Die meeste spanne in ons groep moet egter nog toer en die groep is wawyd oop,” het hy gesê.

Die komende naweek se wedstryd teen die Bulle op Nuweland kan straks bepalend in die Stormers se lot wees.

“Ons speel teen die leiers in die groep en sal weer sterk staan as ons wen. Daar wag ’n groot week op ons,” het Fleck gesê.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net