Print Page | Close Window

Smal waai vroeër by WP; Treu bly

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7525
Printed Date: 26-Jun-2024 at 1:39pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Smal waai vroeër by WP; Treu bly
Posted By: Transvaal
Subject: Smal waai vroeër by WP; Treu bly
Date Posted: 24-Feb-2019 at 7:46am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/smal-waai-vroeer-by-wp-treu-bly-20190223%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/smal-waai-vroeer-by-wp-treu-bly-20190223

Gert Smal sal voor 1 Julie sy kantoor op Nuweland ontruim.

In nog ’n verwikkeling het Paul Treu en die Westelike Provinsie ooreengekom dat hy aanbly en in ’n nuwe pos herontplooi word.

Smal kan selfs heelwat vroeër as 1 Julie wegstap van sy posisie as die WP se direkteur van rugby. Alles sal afhang wat sy werkgewer nog van hom verlang.

Sy kontrak verstryk eers amptelik in Oktober, maar hy sal volgens Rapport se inligting lank voor dan Nuweland groet.

Die verwikkelinge met Treu en die kopstampery vroeër oor die voormalige Blitsbok-afrigter se nuwe postitel, is nie die hoofrede waarom Smal bokse pak nie.

Smal se CV is al van einde verlede jaar in die buiteland versprei. Tensy iets onvoorsiens gebeur, sal hy hom as ’n hulpafrigter by Jake White se Japanse klubspan Toyota Verblitz aansluit. Hy het ook met minstens twee Europese klubs onderhandel.

Treu bly, maar daar sal eers ná sy besoek aan onder meer Eddie Jones en Manchester United duidelikheid oor sy postitel verkry word. Hy het die naweek oorsee vertrek op ’n besoek wat deur die WP goedgekeur is.

Sy tydelike postitel is bestuurder van spesiale projekte.

Rapport verneem die WP gaan egter sukkel om hul spelers en afrigters in die Kaap te hou nadat die president, Zelt Marais, sy voet dwars gesit het om te verseker Treu bly.

Treu het die keuse van ’n pakket gehad, maar hy was nie daarvoor te vinde nie. Hy het die afgelope week met die WP se uitvoerende hoof, Paul Zacks, oor sy WP-loopbaan vergader. Marais het glo aangedring om ook teenwoordig te wees.

Die Treu-kamp meen die ware feite oor die aanloop tot Treu se griefskrif van verlede jaar sal die gewese nasionale sewesafrigter in ’n beter lig stel as dit openbare kennis word.

Hulle (die Treu-kamp) hoop om dit saam met die bekendmaking van sy nuwe amptelike postitel openbaar te maak.

Rapport verneem die magstryd tussen die WP se amateurkant en sakevleuel woed voort. Daar word onder meer beweer dat Marais glo nie Zacks na vergaderings nooi waarvan hy deel moet wees nie.

Dié woelinge en onsekerhede in WP-rugby spoel ook oor na die afrigters. John Dobson, wat geoormerk is om Robbie Fleck volgende jaar te vervang as die Stormers se hoofafrigter, is die week in Durban gesien waar hy besoek by die Haaie afgelê het.

Verskeie oudspelers raak nou soos die afrigters en spelers toenemend bekommerd oor die huidige riller wat hom in Nuweland se raadsale afspeel. In die jongste verwikkeling het die oud-Bok-stut Toks van der Linde tot die stryd toegetree.

Hy het die steun van verskeie ander oudspelers, waaronder Bokke tel. Van der Linde vergader Dinsdag om 12:00 met Marais waar hy na antwoorde opsoek is én ’n tienpuntplan sal voorlê.

Marais en Zacks het nie op Rapport se vrae gereageer nie. Marais het wel twee weke gelede aan Rapport gesê hy weet van geen ongelukkigheid in WP-kringe nie.

Dobson het aan Rapport gesê hy lewer nie op beweringe kommentaar nie.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net