Print Page | Close Window

‘Stryd teen Boland die risiko werd’

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7409
Printed Date: 27-Jun-2024 at 11:15pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: ‘Stryd teen Boland die risiko werd’
Posted By: Transvaal
Subject: ‘Stryd teen Boland die risiko werd’
Date Posted: 07-Feb-2019 at 8:23am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/stryd-teen-boland-die-risiko-werd-20190207%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/stryd-teen-boland-die-risiko-werd-20190207

Hoewel hy styf sal duimvashou dat geeneen van sy Springbokke in die slag bly wanneer die Stormers Vrydagaand hul voorseisoense voorbereiding met ’n wedstryd teen die Boland in Wellington afsluit nie, glo Robbie Fleck dié kragmeting is onontbeerlik.

Die Kapenaars se afrigter sê dis belangrik dat spelers soos Damian de Allende, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi en Steven Kitshoff wedstryd-oefening kry voor volgende Saterdag se Superrugby-kragmeting met die Bulle in Pretoria.

“Hulle het vir vyf weke lank kondisionering gedoen en dit was altyd die plan om hulle in hierdie wedstryd te laat begin,” sê Fleck.

Oor die gevaar van beserings opdoen, is Fleck filosofies.

“Dis altyd daar, maar jy loop ook tydens oefensessies daardie gevaar. Jy moet hulle die kans gee om duikslae uit te voer, van die grond af op te spring en ongelooflik hard te werk.”

Fleck het straks drie van sy voorkeur-kombinasies vir volgende week se kragmeting in Pretoria gekies. Daar’s die Springbok-voorry van Kitshoff, Mbonambi en Malherbe, ’n lostrio van Kolisi, Du Toit en Sikhumbuzo Notshe, en ’n senterpaar van Damian de Allende en Ruhan Nel.

Dillyn Leyds, Seabelo Senatla en Sergeal Petersen is weens ligte beserings nie vir die agterste driehoek oorweeg nie. Fleck het egter die versekering gebied dat hulle fiks gaan wees.

Dieselfde geld die skrumskakel Jano Vermaak.

Damian Willemse sal waarskynlik die eerste uur teen die Boland speel voordat Jean-Luc du Plessis vir die laaste kwart van die wedstryd losgelaat word.

“Twintig of 25 minute sal vir eers genoeg wees vir Jean-Luc,” sê Fleck.

“Dis lekker om hom weer op die veld te sien. As jy hom in oefeninge dophou, besef jy hy het ’n ander perspektief op die spel en sien meer dikwels as nie ruimte raak. Dis ’n eienskap wat ons beslis in ons veldtog gaan nodig hê.”

Vir Fleck is die grootste doelwit Vrydag dat die Stormers “druk” op die Bolanders laai.

“Ons het verlede week gewys hoe gevaarlik die span is wanneer hy omkeerbesit afdwing. Hierdie week is die fokus hoofsaaklik daarop om die teenstander onder druk te plaas – hetsy deur besit te behou of met aggressiewe verdediging,” sê hy.

Fleck meen die Boland sal veral vroeg in die wedstryd oorgehaal wees om die Stormers op die agtervoet te kry.

“Dis altyd ’n taai wedstryd en hulle sal vir die eerste 10 tot 15 minute inklim. Dis ’n goeie geleentheid vir die Boland-spelers om teen kwaliteit-teenstanders te speel. Die skare gaan groot wees en die kwik gaan hoog styg.”

’n Maksimum temperatuur van 37 grade Celsius word Vrydag in Wellington verwag.

* Die wedstryd skop om 17:45 af.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net