Die Leeus se Rugbyunie sal nie ’n oorhaastige besluit neem oor die toekoms van hul hoofafrigter, Swys de Bruin, nie.
Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof, het Sondag bevestig dat professionele hulp ingeroep sal word nadat De Bruin die afgelope naweek onthul het dat hy die druk nie meer kan hanteer nie en weens stres teruggekeer het na Suid-Afrika.
“Ons gaan geen oorhaastige besluite neem oor sy toekoms nie en sake sal hul gang moet gaan. Ons sal mediese hulp inroep soos wat met enige speler die geval sal wees en daar sal ’n intensiewe ondersoek wees voordat ’n besluit oor sy toekoms geneem word,” het Straeuli Sondag gesê.
“Daar gaan nie binne ’n paar dae ’n besluit geneem word nie. Hy kan nou die Paastydperk rustig met sy gesin deurbring en dan sal ons toelaat dat die mediese evaluering vir ons ’n antwoord gee. Ek kan nie ’n tydperk daarop plaas nie,” het Straeuli gesê.
Die Leeus speel Vrydag in Christchurch teen die Crusaders en keer dan terug na Suid-Afrika waar hulle die daaropvolgende week ’n loslootjie het.
De Bruin het skielik verlede week ná ’n skokbesluit teruggekeer na Suid-Afrika weens “persoonlike redes”.
Daar is bespiegel dat hy moontlik ’n onderonsie met Straeuli en Altmann Allers, die ondervoorsitter van die unie, gehad het.
Hulle het dit egter albei ten sterkste ontken en Allers het boonop juis gesê hy meen dit is in die beste belang van almal dat die redes vir De Bruin se terugkeer so gou as moontlik openbaar gemaak word.
De Bruin het onlangs sy kontrak as hoofafrigter van die Leeus met twee jaar verleng, maar het nou laat blyk hy kan die stres wat daar op hom geplaas is nie meer hanteer nie en het besluit om sy tydperk by die span eers op te skort.
Die Leeus het hul laaste twee wedstryde met hom aan die stuur sleg verloor teen onderskeidelik die Haaie en die Brumbies.
Ons gaan geen oorhaastige besluite neem oor sy toekoms nie en sake sal hul gang moet gaan.
Boonop is die verdedigingsafrigter, Joey Mongalo, toe skuldig bevind aan onsedelike aanranding op ’n voorval wat verlede jaar in Sydney gebeur het.
Dit word alles beskou as omstandighede wat tot De Bruin se stres bygedra het.
Die kondisioneringsafrigter, Ivan van Rooyen, moes toe inderhaas die leisels oorneem en die Leeus het goed teruggeveg om hul kragmeting op Goeie Vrydag in Hamilton teen die Chiefs met 23-17 te wen.
Vir daardie kragmeting het die Leeus hul gereelde kaptein, Warren Whiteley, asook die ervare Kwagga Smith teruggehad.
Volgens Straeuli sal Van Rooyen voorlopig die leisels op die veld neem en die spanbestuurder, Mustapha Boomgaard, sal in beheer van sake af van die veld wees.
De Bruin het Sondag gesê hy het niks om by te voeg nie en wil geen verdere kommentaar lewer nie.
Sy posisie by die Springbokspan kan ook nou in die weegskaal wees. Hy is deur die afrigter, Rassie Erasmus, aangestel as ’n aanvalkonsultant en is veronderstel om later vanjaar in daardie hoedanigheid na die Wêreldbeker te gaan.
Nou hang daar egter ’n groot wolk daaroor as gevolg van sy siektetoestand.