Print Page | Close Window

BBM ondersoek Xander vir bedrog

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7747
Printed Date: 07-Jul-2024 at 2:06am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: BBM ondersoek Xander vir bedrog
Posted By: Transvaal
Subject: BBM ondersoek Xander vir bedrog
Date Posted: 13-Apr-2019 at 7:05am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/bbm-ondersoek-xander-vir-bedrog-20190412" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/bbm-ondersoek-xander-vir-bedrog-20190412

Daar is al lank vrae en aantygings oor die Bulle se kontraktering van spelers en die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het nou in ’n opspraakwekkende onthulling bevestig dat sy voormalige hoëprestasiebestuurder, Xander Janse van Rensburg, weens beweerde bedrog ondersoek word.

Alfons Meyer, wat aan die begin van Januarie as die BBM se uitvoerende hoof by Barend van Graan oorgeneem het, sê verskeie rolspelers het sedertdien aantygings teen Janse van Rensburg gemaak.

“Daar het inligting en aantygings aan die lig gekom wat ons bloot nie kon ignoreer nie. Ek kan bevestig dat ons met ’n ondersoek begin het.”

Janse van Rensburg, wat sedert 2010 by die Bulle betrokke was en onder meer vir die franchise se werwing verantwoordelik was, het in Februarie onverwags sy bedanking ingedien.

Hy het in ’n verklaring gesê hy het besluit om sy loopbaan te heroorweeg en meer tyd saam met sy gesin deur te bring.

Daar word beweer dat hy sommige spelers “bo markwaarde” gekontrakteer het en dat hy selfs “onder die tafel-kommissie” van agente gekry het.

Volgens inligting het die beleggingsmaatskappy Remgro, wat ’n 50%-aandeel in die BBM het, voorgestel dat ’n omvattende ondersoek gelas word.

Meyer het gesê die ondersoek word voorlopig intern hanteer.

“Verskeie kwessies word ondersoek, maar weens die aard en omvang daarvan kan ons nie in hierdie stadium veel meer sê nie.”

Tim Dlulane, ’n oud-Bok-flank en voormalige spanbestuurder van die Bulle, het in 2017 beweer dat Janse van Rensburg een van die hoofredes is waarom die span die afgelope paar seisoene so gesukkel het.

Dlulane, wat sy pos in ’n afleggingsproses verloor het, het destyds gesê Janse van Rensburg het ’n toksiese omgewing by die Bulle geskep en dat daar ’n regstreekse korrelasie tussen sy kontraktering en die maatskappy se benarde geldsake is.

Janse van Rensburg kon nie vir kommentaar bereik word nie.



Replies:
Posted By: Transvaal
Date Posted: 13-Apr-2019 at 9:19am
Die wiel draai partymaal stadig maar hy draai. Beter om maar altyd die reguit pad te loop, skelmstreke kom maar altyd uit, al neem dit partymaal baie lank



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net