Print Page | Close Window

Swys: ‘Ons het soos mal goed geoefen’

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7737
Printed Date: 05-Jul-2024 at 6:30pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Swys: ‘Ons het soos mal goed geoefen’
Posted By: Transvaal
Subject: Swys: ‘Ons het soos mal goed geoefen’
Date Posted: 09-Apr-2019 at 9:13pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/swys-ons-het-soos-mal-goed-geoefen-20190409" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/swys-ons-het-soos-mal-goed-geoefen-20190409

Swys de Bruin en sy Leeus sal die lesse uit die verlede ter harte moet neem indien hulle wil oorleef op hul Australasiese Superrugby-toer wat Saterdag met ’n stryd teen die Brumbies begin.

Die Chiefs, wat die Bulle ’n loesing op Loftus gegee het, en die kompetisie se pasaangeërs, die Crusaders, wag ook vir die span van Johannesburg.

Daar sal na die bladsye van 2013 en 2014 geblaai moet word toe hulle ook ’n onervare groep was en liggewigte in die pak gehad het, wat groentjies was en nie die stewige eenheid was wat die afgelope drie jaar deurgedring het tot die eindstryd nie.

Dit was die jare toe De Bruin, tans die hoofafrigter, en sy voorganger, Johan Ackermann, met die weggooikinders van ander unies moes begin bou aan ’n wenspan.

Ná drie goue seisoene het die wiel nou weer vir dié span van die Goudstad gedraai en moet hulle ook wéér op hierdie hoë vlak met spelers meeding wat by ander unies oor die hoof gesien is.

Carlu Sadie en Sti Sithole is deur die Westelike Provinsie as oorskot-voorrymanne beskou. Frans van Dyk is ook nie by die Bulle gesien as een van hul uitsoekmanne nie, terwyl Stephan Lewies ook maar agterlangs in die tou gestaan het by die Haaie.

Hoe talentvol hulle ook al mag wees, Nathan McBeth, Rhyno Herbst en Wilhelm van der Sluys is ook nog alles behalwe spelers waarmee daar op Supervlak teen die Crusaders en Chiefs in Nieu-Seeland met groot vertroue meegeding kan word.

Ander slegte nuus is boonop dat Kwagga Smith, wat in die Leeus se toergroep is, nie reeds Saterdag teen die Brumbies in Canberra kan speel nie.

Die hoop bestaan volgens die afrigter dat Warren Whiteley hom aanstaande week by die groep kan aansluit en soos Smith beskikbaar kan wees teen die Chiefs in Hamilton.

Met hoe sake voorlangs daaruit sien, is dit baie moeilik om te kan dink dat die Leeus een van hul drie kragmetings oorsee kan wen.

Een van die strooihalms waaraan De Bruin kan probeer gryp, is die feit dat hulle hierdie seisoen eintlik veel beter in hul weg- as tuiswedstryde vertoon het.

Hulle het die eerste keer in Buenos Aires gewen deur die Jaguares daar te troef, en is daarna net-net in die laaste minuut in Kaapstad deur die Stormers geklop, waarna hulle in Singapoer met die Sunwolves klaargespeel het.

Teenstanders sou egter beslis kennis geneem het van hoe spanne die Leeus voorlangs karnuffel en boelie en dus gaan hulle in elke wedstryd daar geteiken word.

De Bruin glo ook Canberra is een van die moeilikste wegvelde om op te speel waar die tuisskare veral baie venynig is en dit moeilik maak vir die Brumbies se teenstanders.

“Ons gaan ook poog om vir hierdie eerste kragmeting nog in Suid-Afrikaanse tyd te bly en te probeer toesien dat vlugflouheid ons nie baasraak nie,” sê hy.

“Ons het Maandag soos ’n klomp mal goed geoefen en wou die frustrasie van die Haaie-nederlaag uit ons kry. Die versekering wat ek kan gee, is dat ons alles sal insit op hierdie toer en nie sommer net sal handdoek ingooi nie.”



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net