Print Page | Close Window

Sunwolves dalk ‘nie vir wolwe gegooi’

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7680
Printed Date: 29-Jun-2024 at 6:20am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Sunwolves dalk ‘nie vir wolwe gegooi’
Posted By: Transvaal
Subject: Sunwolves dalk ‘nie vir wolwe gegooi’
Date Posted: 21-Mar-2019 at 4:20pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/sunwolves-dalk-nie-vir-wolwe-gegooi-20190321%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/sunwolves-dalk-nie-vir-wolwe-gegooi-20190321

Hulle gaan van 2021 af dalk nie meer deel van die Superrugby-reeks in sy huidige formaat wees nie, maar die Sunwolves word allermins vir die wolwe gegooi.

Inteendeel, die Japanse span gaan dalk voortleef in ’n “Asiese Superreeks” – ’n plan waaraan Sanzaar, die beheerliggaam van Superrugby, glo in die geheim werskaf. ’n Fidjiaanse span kan glo ook ingesluit word.

Dis nou natuurlik indien brokkies uitgelekte inligting uit die “hoogs vertroulike plan” in die kol is.

Sanzaar het vroeër vandeesweek gesê dat hy Vrydag ’n aankondiging oor die toekoms van die Superreeks gaan doen.

Die beheerliggaam kan egter nie breedvoerige besluite neem alvorens Wêreldrugby, die internasionale beheerliggaam van die sportsoort, duidelikheid oor sy beplande Wêreldligareeks gee nie. Dit behoort teen die einde van vandeesmaand te gebeur.

Sou dit deurgevoer word, kan Fidji hom aansluit by die vergrote Rugbykampioenskap, wat moontlik ses spanne gaan hê. Daar is egter nog onsekerheid oor Japan se deelname.

Die bespiegelings oor die “Asiese Superreeks” het vandeesweek kop uitgesteek op ’n besoek van die Australiese Rugbyunie (ARU) se uitvoerende hoof, Raelene Castle, aan Japan.

Volgens die Sydney Morning Herald sal dié kompetisie, wat Sanzaar se goedkeuring gaan dra, gedeeltelik deur die miljardêr Andrew Forrest besit word.

Hy was destyds ’n groot kampvegter vir die Western Force toe die ARU met een van sy Superrugby-spanne moes wegdoen.

Die plan is vir ’n Japanse span om bygevoeg te word by die Force, Fidji, Samoa, Hongkong en Singapoer.

Daar is selfs sprake dat ’n Maleisiese en nog ’n Australiese span geskep kan word om in die voorgestelde “Asiese Superreeks” mee te ding.

Hierdie gerugte het kop uitgesteek op ’n tydstip waar Sanzaar op sy agterpote is oor die Sunwolves, wat in hul vierde seisoen skielik nie meer die Superreeks se melkkoei is nie. Die span het onlangs in Nieu-Seeland met die Chiefs afgereken.

Voorts lok die Sunwolves gereeld skares van 15 000 toeskouers of meer.

Die oorsprong van die Japanse franchise se probleme lê in Suid-Afrika, die ekonomiese hartklop van die Sanzaar-alliansie.

Suid-Afrikaanse spanne is glo ontevrede oor die ongemaklike reistyd na Japan en Singapoer.

Boonop lok die Sunwolves nie groot skares in Suid-Afrika nie. Argentinië is aan Suid-Afrika se kant, terwyl Nieu-Seeland en Australië ten gunste van die Sunwolves se voortgesette deelname is, maar straks ’n verlore stryd voer.

Die hele debakel gebeur op die goorste tyd denkbaar, want Japan is die gasheer vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi. Dis die eerste keer dat dié internasionale skouspel in Asië plaasvind.

Vir Wêreldrugby kan dit ’n groot verleentheid wees om te sien hoe die gasheerland se voorste provinsiale span ses maande voor die afskop in die WB-toernooi die trekpas uit die Superreeks kry.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net