Print Page | Close Window

Dobson skrik g'n vir Kaapse streke

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7668
Printed Date: 05-Jul-2024 at 5:29pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Dobson skrik g'n vir Kaapse streke
Posted By: Transvaal
Subject: Dobson skrik g'n vir Kaapse streke
Date Posted: 17-Mar-2019 at 10:29am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/dobson-skrik-gn-vir-kaapse-streke-20190317%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/dobson-skrik-gn-vir-kaapse-streke-20190317

Hy weet hy gaan hare op sy tande nodig hê om die Stormers deur die onstuimige waters van Superrugby te brei, maar dis ’n uitdaging waarvoor John Dobson aanstaande jaar kans sien.

Tien jaar nadat hy by die Westelike Provinsie as afrigter aangesluit het, kry Dobson, huidige afrigter van die Streeptruie se Curriebeker-span, uiteindelik die kans om die Kapenaars se Super-span ook af te rig.

Hy neem volgende seisoen die leisels oor by die huidige afrigter, Robbie Fleck, wie se kontrak aan die einde van die seisoen verstryk.

Vir die slaggate, wat stoere ondersteuners en politieke druk insluit, sien die kaalkop-breier egter kans. Hy ken die terrein van afrigting in die Kaap en hy weet dis nie speletjies nie.

“Ek weet waardeur Fleckie gegaan het, so my oë is oop daarvoor,” het Dobson vandeesweek gesê.

“Toe Rob die afrigterspos in 2016 gevat het, het ek gedink ek is nog nie reg daarvoor nie. Hopelik nou, met die ervaring wat ek (tans met die span) gaan opdoen, en as ons goed genoeg vaar vanjaar, sal ek gereed wees om die taak volgende seisoen te verrig.”

Sy besluit om die breierleisels by Fleck oor te neem, was uiteindelik maklik, sê Dobson, ten spyte van alles wat met die werk gepaardgaan.

“Ek wou die beste span in die streek (in die Kaap) afrig voordat ek ook sou aanbeweeg. Ek het gedink die Curriebeker-reeks sou my einddoel wees, maar om eerlik te wees, die kompetisie is nie meer wat dit in die verlede was nie.”

Dobson het aanbiedinge van elders in die land en oorsee van die hand gewys om in Kaapstad as afrigter aan te bly. Hy het onder meer al sukses met die WP se o.21’s gesmaak en ook die destydse Vodacombeker-reeks en die huidige SuperSport-uitdaagreeks én die Curriebeker-kompetisie met die Streeptruie gewen.

Dobson reis vandag saam met die Stormers na Australasië.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net