Print Page | Close Window

Stormers verrys uit as

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7526
Printed Date: 29-Jun-2024 at 6:23am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Stormers verrys uit as
Posted By: Transvaal
Subject: Stormers verrys uit as
Date Posted: 24-Feb-2019 at 7:50am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/stormers-verrys-uit-ys-20190223" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/stormers-verrys-uit-ys-20190223

Presies ’n week gelede is die Stormers reeds deur hul kritici afgeskryf, maar die Kapenaars het Saterdag op Nuweland met pure veggees terug in die harte van hul ondersteuners ingekruip.

Herschel Jantjies se drie onder die pale ná genadelose druk van etlike minute het aan die Stormers ’n sege van 19-17 (rustyd 6-14) oor die Leeus in hul Superrugby-wedstryd besorg.

Die skare was vir lank op hul voete met die hoogdrama wat voor hulle afgespeel het. Die besoekers het met mannemoed verdedig, maar is op die verkeerde voet betrap toe die bal by ’n skrum uitspring en Jantjies opportunisties toegeslaan het.

Op grond van hoe swak die Stormers in die eerste helfte was, sou jy jou dié gebeure nie kon indink nie. Inteendeel, ’n swakker eerste helfte deur die Stormers was daar lanklaas op Nuweland. Die passie was daar, maar intelligensie het die Kapenaars ontglip en hul dissipline was om die minste te sê skokkend.

SP Marais het die bal afgeklap voordat Bongi Mbonambi twee keer in soveel minute gestraf is met ’n skouerloop op Nic Groom en ’n duikslag op ’n man in die lug. Daarna was dit Sergeal Petersen se beurt om ’n teenstander van die afskop af in die lug te speel voordat Ali Vermaak twee keer van die kant van ’n losskrum af ingevlieg het.

Vermaak is ná sy tweede stukkie geniepsige spel – in die doodsnikke van die eerste helfte – met ’n geelkaart gestraf. Die Stormers was op die aanval en kon maklik ’n drie gedruk het om die gaping tot ’n punt te verklein. Boonop het die besoekers ’n minuut voor daardie voorval hul besielende kaptein, Warren Whiteley, aan ’n skouerbesering afgestaan.

Die Leeus het met minder inspirasie op die aanval gespeel as wat gewoonlik die geval is, maar het in die eerste kwart van die wedstryd in die Stormers se gebied geboer. Terwyl die Kapenaars goed gedoen het om die Leeus se rolmale te stuit, kon Damian Willemse en SP Marais saam nie vir Kwagga Smith op pad doellyn toe stuit nie.

Whiteley het ook afgerond nadat die Leeus wéér die geleentheid gehad het om die bal in die Stormers se kwartgebied uit te skop. Vermaak se geelkaart moes eintlik die weg vir die Leeus gebaan het om weer beheer oor die wedstryd te kry nadat hulle dit in die laaste 10 minute van die eerste helfte prysgegee het.

Die verlies van Whiteley kon egter ’n groot faktor gewees het. Tot hul krediet het die Stormers kliphard baklei en het twee strafdoele deur Marais hulle binne twee punte van die Leeus gekry.Die Stormers het nietemin aangehou om ongedwonge foute te maak met JD Schickerling en Ruhan Nel wat hanteerfoute gemaak het om die Kapenaars weer op die agtervoet te dwing.

Die Leeus het egter nie hul gewone byt met die bal in die hand gehad nie en wat die Stormers betref, was dit hoe later hoe kwater. Hulle het aanhou klop aan die deur en die Leeus het met elke greintjie van hul wese baklei om die Kapenaars van hul doellyn weg te hou. Die damwal het ná etlike minute se hoogdrama uiteindelik gebreek om vir die Stormers ’n kosbare sege te gee.

Ja, hulle was merendeels swak, maar dié was onder die omstandighede ’n yslike sege.

Puntemakers:Stormers 19 (6): Drie: Herschel Jantjies. Doelskop: SP Marais. Strafdoele: Marais (4). Leeus 17 (14): Drieë: Kwagga Smith, Warren Whiteley. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafdoel: Jantjies.
 





Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net