Print Page | Close Window

Pote stuur sterkste Superheld-Bulle na Kaap

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7295
Printed Date: 28-Jun-2024 at 2:37am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Pote stuur sterkste Superheld-Bulle na Kaap
Posted By: Transvaal
Subject: Pote stuur sterkste Superheld-Bulle na Kaap
Date Posted: 28-Jan-2019 at 8:16am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/pote-stuur-sterkste-superheld-bulle-na-kaap-20190127%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/pote-stuur-sterkste-superheld-bulle-na-kaap-20190127

Daar is nie so iets soos ’n vriendskaplike wedstryd teen die Stormers nie, sê Pote Human, die Bulle se breier, onomwonde.

Sondag 3 Februarie se sogenaamde superheldkragmeting met die Stormers in Kaapstad het ’n interessante dinamiek, gegewe die vooruitsig dat die twee spanne mekaar oor twee weke in die eerste ronde van die Superreeks op Loftus Versfeld aandurf. Albei spanne sal ’n paar truuks vir Pretoria hou, maar sal terselfdertyd tog ’n sielkundige hou wil inkry in die aanloop.

Human is daarom van plan om sy sterkste moontlike span Kaap toe te vat. Dit sluit die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen en die slotte RG Snyman en Jason Jenkins, wat albei pas uit Japan teruggekeer het, in.

“Ek verneem Sondag kan uitverkoop wees, so dit gaan ’n groot geleentheid wees. Die plan is om al die Springbokke ’n kans te gee. Ons sal Maandag kyk hoe die ouens wat van Japan af teruggekom het se fiksheid lyk,” sê hy.

“Ek gaan Duane beslis oorweeg. Hy is al ’n paar dae saam met die span en ek wil sien hoe hy vaar. Hy is net so ywerig om sy seisoen te begin.”

’n Span van die Bulle het Saterdag op Loftus se B-veld met 21 – 17 teen die Leeus gewen. Hoewel daar tussen die spanne dalk op die meeste vier of vyf spelers was met ’n realistiese kans om die franchises se beginspanne te haal, was Human tevrede met die vertoning.

Die Bulle was vroeg met 21 – 0 voor, maar kon nie die oorheersing enduit volhou nie.

“Ek was veral gelukkig met die eerste helfte. Ná rustyd het ons hulle onder druk gehad en kon net nie afrond nie. Ons dissipline het toe ’n bietjie gelol. Dit is nie iets waaroor ek bekommerd is nie.”

Human sê sy span gaan wel minder strafskoppe moet afstaan.

“In die eerste 20 minute is ons nie een keer gestraf nie en toe kom daar agt in ’n ry. Ons sal ook aandag gee aan die afronding, want op dié vlak moet jy jou kanse gebruik.”

Hy het die flankpaar, Thembelani Bholi en Ruan Steenkamp, uitgesonder.

“Bholi was uitstekend en Stoney (Steenkamp) was sy ou bedrywige self. Daar is eintlik ’n hele paar spelers wat ’n tree nader aan die beginspan gegee het.”

* Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) sal dié week ’n besluit oor Garth April maak wanneer hy in Pretoria mediese toetse ondergaan.

Daar is voelers na April, wat vir die Shining Arcs in Japan speel, uitgesteek met Marnitz Boshoff se kniebesering wat hom langer langs die kantlyn gaan hou as wat aanvanklik verwag is.

* Puntemakers

Bulle 21 (21). Drieë: JT Jackson, Franco Naudé, Rosko Specman. Doelskoppe: Manie Libbok (3).

Leeus 17 (10). Drieë: Morné van der Berg, Stiaan Pienaar, James Venter. Doelskop: Jean-Luc Cilliers.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net