Print Page | Close Window

Stormers: Gert Smal uit; Paul Treu in?

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7290
Printed Date: 28-Jun-2024 at 2:08am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Stormers: Gert Smal uit; Paul Treu in?
Posted By: Transvaal
Subject: Stormers: Gert Smal uit; Paul Treu in?
Date Posted: 27-Jan-2019 at 7:28am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/smal-uit-treu-in-20190126%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/smal-uit-treu-in-20190126

’n Storm woed in die Kaap oor ingrypende skommelinge aan die Stormers se bestuurspan met die voormalige Blitsbok-afrigter Paul Treu wat Gert Smal as direkteur van afrigting kan vervang.

Die Westelike Provinsie se nuwe president, Zelt Marais, ondersteun Treu se aanstelling in Smal se pos. Smal se kontrak met die WP verstryk eers in Oktober en g’n gesprekke is oor sy toekoms by die WP met hom gevoer nie.

Die Marais-kamp is glo ook gretig om die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers by WP-rugby betrokke te kry.

Dié moontlike skuiwe, in besonder Treu s’n, was gisteroggend ’n warm besprekingspunt op ’n vergadering van die WP se uitvoerende komitee in Kaapstad. Die vergadering het ongeveer drie uur geduur.

Treu se moontlike aanstelling as Smal se opvolger was glo ’n geskilpunt wat lank gedebatteer is. Treu se uitval met die Stormers se hulpafrigter Paul Feeney, én die getuienis van Stormers-spelers daarna in ’n onafhanklike ondersoek van die regsfirma Bowmans oor onder meer die afrigterskwessie wat verlede jaar in WP-rugby uitgebreek het, is duidelik steeds ’n teer punt.

Rapport het verneem bekommerde senior spelers het glo selfs met DHL, hul hoofborg, oor Treu se aanstelling gepraat, omdat die kwessie agter die skerms verdeeldheid veroorsaak en dreig om die span se Superrugby-veldtog skade te berokken.

Senior spelers, waaronder Bokke, wil glo hê die WP moet sy bande met Treu verbreek en DHL is bekommerd oor die kwessie.

Daar is selfs sprake dat Treu vroeër as Oktober in sy nuwe pos aangestel kan word.

Treu, verlede jaar een van die Stormers se hulpafrigters, het in Julie uit ’n hersieningsvergadering van die span se mislukte veldtog gestorm en gesê hy het “genoeg daarvan gehad om sleg behandel te word en dat hy dit nie meer gaan vat nie”.

’n Bron in die Treu-kamp het gister die beweringe ontken dat senior spelers met hul borg oor die saak beraadslaag het en aandring dat Treu geïsoleer word.

Die bron sê dis sover sy kennis strek onwaar dat spelers dreig om te staak as Treu aangestel word én dat DHL as die hoofborg bekommerd oor die aangeleentheid is.

“Treu en die spelers het ’n goeie verhouding. Hy en die meeste van die afrigters ook. Dis eerder ’n geval dat daar verskille tussen Paul en sekere individue is. Die lug moet tussen hulle gesuiwer word,” sê die bron.

Die WP se instemming dat Treu in Maart Engeland se afrigter, Eddie Jones, kan besoek om daar aan sy vaardighede as afrigter te werk, is ’n verdere aanduiding dat die WP Treu geoormerk het vir ’n hoë pos in sy bestuurspan. Hy sal minstens twee dae saam met die Engelse afrigter deurbring. Hy het ook afsprake met Manchester United, Ierland en Skotland.

Smal het in 2014 uit Ierland, waar hy die hulpafrigter van die Ierse span was, na die Kaap teruggekeer in sy huidige pos.

“Ek het nog nie ’n besluit oor my toekoms geneem nie,” het Smal aan Rapport gesê.

“Op die oomblik is ek 100% toegewyd aan WP Rugby en ons voorbereiding vir die Stormers. As die tyd aanbreek sal ek die beste besluit neem vir my toekoms en gesin.”

De Villiers se presiese rol is nie bekend nie, maar in sekere kringe word beweer hy kan volgende jaar selfs by Fleck oorneem. Fleck se huidige kontrak eindig vanjaar, terwyl De Villiers tans Zimbabwe se afrigter is.

Die Stormers se bestuurspan vir die seisoen is duidelik steeds ’n omstredenheid. Die WP het nog nie ’n mediaverklaring uitgereik om die Stormers se bestuurspan vir 2019 te bevestig nie.

Dis onduidelik of hulle beplan om dit enigsins te doen, veral oor die onsekerheid wat daar oor Treu se rol én die gebrek aan transformasie in die bestuurspan bestaan.

Rapport verneem John Dobson, Dawie Snyman jr. en Norman Laker sal Fleck in vanjaar se Superreeks bystaan. Hanyani Shimange kan ook as ’n skrumkonsultant betrek word.

Rapport kon nie gister daarin slaag om kommentaar by Marais en Treu te kry nie.



Replies:
Posted By: Transvaal
Date Posted: 27-Jan-2019 at 7:32am
Klink of hulle van plan is om 'n paar "own goals" aan te teken, maak dit makliker vir die ander spanne


Posted By: WitBoer
Date Posted: 27-Jan-2019 at 9:01am
LMGA!!!! Piet Helium as hoofafrigter!! Hier kom 'n ding....lol

-------------
"Believe nothing, No matter where you read it, Or who has said it, Not even if I have said it, Unless it agrees with your own reason And your own common sense" - Buddha


Posted By: Transvaal
Date Posted: 27-Jan-2019 at 9:35am
Ja dit klink soos 'n 1 April grappie maar ek het op die kalender gekyk, dis Januarie so ek weet nie wat gaan aan nie



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net