Print Page | Close Window

Warren wil seker maak Rassie sien hom raak

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7239
Printed Date: 21-May-2025 at 12:59pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Warren wil seker maak Rassie sien hom raak
Posted By: Transvaal
Subject: Warren wil seker maak Rassie sien hom raak
Date Posted: 19-Jan-2019 at 6:10am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/warren-wil-seker-maak-rassie-sien-hom-raak-20190118%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/warren-wil-seker-maak-rassie-sien-hom-raak-20190118

’n Wêreldbeker-rugbyjaar haal die beste uit elke speler, sê Warren Whiteley, agtsteman en kaptein van die Leeus.

“Elkeen wil goed vaar in dié jaar, want dit is die groot doelwit om op die vliegtuig te wees na die toernooi (in Japan) toe. Jy wil jou hand opsteek en seker maak jou vertonings is deurgaans van so ’n hoë gehalte dat daar van jou kennis geneem word.

“Rassie (Erasmus, die Springbok-afrigter) is ook iemand wat harde werk sal beloon en daarom is dit ’n groot motivering om te weet as jy hard werk en die stewige vertonings lewer, jy nie misgelyk sal word nie,” het Whiteley Vrydag by die Leeus se oefening in die Johannesburg-stadion gesê.

Die 31-jarige Whiteley, wat in 23 toetse vir die Springbokke gespeel het, is besonder fiks en het dit as een van die beste voorseisoene beskryf wat hy nog ervaar het.

“Ek het baie hard gewerk en baie tyd op die pad deurgebring en gehardloop,” vertel hy. Volgens hom is die kuitbesering waarmee hy sukkel, nog effe gevoelig, maar dat hy waarskynlik binne die volgende week weer aan kontak-oefeninge sal deelneem.

Die leier van die Leeus se trop glo vanjaar se Superreeks gaan besonder mededingend wees, met veral die Suid-Afrikaanse spanne tussen wie nie veel gekies sal kan word nie.

Dit gaan ook nie vir hom as ekstra motivering dien om sy vernaamste teenstander om die nr. 8-trui van die Springbokke, Duane Vermeulen, ook nou weer in die Superreeks te hê waar hy vir die Bulle in aksie gaan wees nie.

“Dit sal geen verskil aan my maak nie. Ek het voorheen teen Duane gespeel toe hy by die Stormers was. Ek sê nog altyd ek het baie respek vir hom as speler en kyk op na hom,” sê Whiteley.

Volgens Whiteley het die Leeus Donderdag ’n goeie sessie met Erasmus gehad, waar hy sy planne vorentoe aan hulle uitgespel het. “Dit is belangrik dat daar rus vir die spelers gaan wees in die aanloop tot die Wêreldbeker.

“Rassie het vir ons van week tot week laat verstaan wat hy wil hê en hoe dinge gedoen moet word met die Springbokke in gedagte,” vertel hy.

Whiteley gee toe die Leeus het ’n aantal “fantastiese spelers” verloor deurdat Rohan Janse van Rensburg, Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen, Franco Mostert en Jaco Kriel almal oorsee is.

“Tog het ons steeds die ruggraat van die span behou en dit is belangrik. Daar is steeds kontinuïteit in die groep en dit is nou die kans wat van die jong spelers kry om hul posisies in die span te verstewig,” sê hy.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net